JOIN OUR MAILING LIST
Blog


2018-09-17
Wat is Soekenjinoptimisasie (SEO)?


Een van ons nuwe kliënte het ons Vrydag gevra om SEO of Soekenjinoptimisasie te verduidelik. Ek dek die onderwerp omtrent elke maand wanneer ek my maandelikse nuusbrief doen en ook vir so lank reeds dat ek eintlik nie meer iets nuuts het om oor die onderwerp te skryf nie. Wel ek het nog nie dit in Afrikaans gedoen nie. (Indien ek wel het onthou ek dit nie nou nie.) Dit is belangrik om nuwe dinge te doen en om uniek te wees indien jy meer besoekers na jou webwerf via soekenjins wil kry.

Daar is ander maniere om mense te kry om jou webwerf te vind soos deur die uitdeel van besigheidskaartjies of die deel van jou webwerf op sosiale media blaaie soos Facebook maar die proses om beter te doen op Soekenjins soos Google, Yahoo en Bing tydens soekresultate word genoem Soekenjinoptimisasie of SEO. (Afgelei van die Engelse beskrywing van die proses : Search Engine Optimisation).

Daar is twee maniere dat mense jou deur soekenjins sal vind. Die eerste manier is deur om te adverteer op soekenjins. Google vertoon tans advertensies op die boonste 4 plekke van soekenjins. Die plekke word genoem betaalde soekresultate. Die webwerwe wat die meeste geld aanbied vir sekere soekterme en / of sleutelwoorde word heel bo vertoon.

Die tweede manier om deur soekenjins gevind te word is eintlik wat deur die onderwerp van SEO gedek word. Die webwerwe wat onderaan die betaalde soekresultate gevind word, word die organiese soekresultate genoem. Soekenjins rangskik hierdie organiese soekresultate na gelang van wat na hul mening die beste aan die persoon wie die soek gedoen het se behoefte sal voldoen. Die persoon wie die soektog uitvoer se fisiese lokasie word in ag geneem wanneer soektogte uitgevoer word.

Om resultate te kry met betaalde advertensies moet geld spandeer word.

Om te verskyn tussen die organiese soekresultate moet meer dinge gedoen word.  Daar kan onderskei word tussen dinge wat jy op jou webwerf moet doen, ook genoem opwebwerf-SEO en dinge wat jy op ander plekke doen, ook genoem afwebwerf-SEO .

Dinge om op jou webwerf te doen sluit in:

  • Gebruik jou eie unieke inhoud. Wees jouself. Moenie van ander webwerwe kopieer nie.
  • Sorg dat die belangrike inligting maklik gevind kan word.
  • Moenie prentjies (grafiese werk) gebruik in plaas van woorde vir belangrike sleutelwoorde nie.
  • Moenie spam deur bloot ‘n klomp sleutelwoorde onsamehangend te herhaal nie.
  • Gebruik die inleidende paragrawe van belangrike bladsye, veral jou Tuisblad en jou Meer oor ons blad (Home and about us) om te vertel wat jy doen en waar jy dit doen. (Jy sal outomaties sleutelwoorde – woorde waarvoor jy gevind wil word - op ‘n natuurlike manier gebruik) . Jy kan later jou missie, visie en geskiedenis deel.
  • Opskrifte is belangrik
  • Gebruik die regte sagteware en webwerfontwerpmaatskappy
  • Maak seker jou webwerf vertoon ook netjies op selfone en tablette

Indien jy wil weet hoe kompeterend die mark is doen self ‘n paar soektogte en bestudeer die top webwerwe – jou direkte kompetisie en let op na die hoeveelheid en kwaliteit van die teks wat op die webwerwe verskyn.

Dinge wat jy apart of af van jou webwerf kan doen sluit in:

  • Die skep van ‘n Facebook bladsy – en die plasing van ’n skakel na jou webwerf daarop.
  • Die skep van ‘n Google my business (Google maps) bladsy
  • Kry ander kwaliteit webwerwe om na jou webwerf te skakel . (Vra verskaffers, kliënte met kwaliteit webwerwe)

Tradisioneel was die domein van SEO die bou van skakels na jou webwerf. Dit was ook tradisioneel die gebruik van sleutelwoorde in jou webwerf teks. Omrede mense  hierdie tegnieke misbruik probeer soekenjins maniere vind om minder afhanklik daarvan te raak. Daar is meer as 200 faktore wat soekenjins in ag neem wanneer hulle op soekresultate besluit. Google is by verre die grootste of mees gewildste soekenjin en is vanjaar 20 jaar oud. Een van die faktore wat in ag geneem word is die ouderdom van jou domein. Veral as jy so pas ‘n nuwe webwerf begin het in ‘n kompeterende mark sal jy beslis alternatiewe strategieë bykomend tot SEO moet oorweeg indien jy die eerste drie kritieke jare van jou nuwe besigheid wil oorleef.

Doen altyd eerste die baie belangrike basiese dinge reg voordat jy van daardie soliede fondament uitbrei. Baie van die basiese is reeds genoem. Om ‘n webwerf te skep is reeds ‘n stap in die regte rigting. Om aandag te gee aan sleutelwoorde soos genoem is ‘n ander.

Nadat die basiese reg gedoen is kan ander dinge gedoen word soos die begin van ‘n blog op jou webwerf. Neem hierdie blog as ‘n voorbeeld. Op versoek van ‘n nuwe Afrikaanse kliënt moes ek SEO verduidelik. Ek het gekies om dit weer te doen eerder as om iets op te soek wat ek voorheen geskryf het. Ek het dit in Afrikaans gedoen om anders te wees. In plaas van om hierdie in ‘n epos te stuur sal ek die as ‘n blog op my webwerf plaas en so my eie webwerf se SEO met tyd verbeter.

‘n Webwerf is ook veronderstel om jou tyd te bespaar. Ek is seker ek gaan in die week en ook in die maand en later dieselfde vraag van nog ‘n Afrikaansprekende kliënt kry. Ek sal dan bloot na hierdie blog kan verwys. Ook binne my webwerf waar ek in Afrikaans my dienste beskryf kan ek nou ‘n skakel na hierdie artikel plaas vir diegene wie wil weet wat is SEO. Ek is self steeds verbaas wanneer iemand my vertel dat hulle alles op my webwerf gelees het. Mense doen dit wel. Mens moet eintlik moeite doen om seker te maak jy maak nie spelfoute nie. Ook vir my is tyd ‘n kosbare kommoditeit. Die beginsel van tyd is geld, geld vir almal. Facebook en Google advertensies behoort deel te wees van elke besigheid se bemarkingstrategie.

Ek is nou reeds verby my 10 jaar in hierdie bedryf en het al baie mense privaat of in groepe opgelei. My gunsteling video wat ek altyd gebruik is die onderstaande video. Kyk dit gerus 3 keer en neem dit in. (Veranderinge van toe na nou: Google advertensies word nie meer regs vertoon nie. Google Maps resultate is ook baie meer prominent as in die verlede. Die boonste vier plekke is nou gereserveer vir advertensies behalwe as daar nie toepaslike advertensies is nie)

En net om te bewys dat ek al lank reeds in die bedryf is en dieselfde deuntjie sing as 8 jaar gelede:

 



Comments
Add Your Comment 
Herman Booysen
2018-09-22 07:47:03  
Fantastiese artikel in Afrikaans Francois vol baie goeie wenke...gaan beslis dieper delf. Dankie Herman  
 
   

* Name:   
* Email:    
* Comment:    
  Please calculate the following and enter the answer below: 1 x 4 + 0 = ?
Answer:
 
Please leave this box blank.
 
Back Back to top